Ek kon nie slaap nie. Die redes maak net sin vir my, so terwille van n einde kom ons los dit. Ek trek warm aan en gaan vir n loop in Hyde Park. Dis om die hoek van waar ek bly, dis mooi, dis veilig en ek geniet dit. Die verlore slaap skop in, maar die tyd staan stil.
Tik-tak, tik-tak.
Ek sit hier by die werk en Kersfees is om die hoek, maar 5 dae weg. Dis grys, koud, nat en winderig en ek wil myself voor een van die rooi busse ingooi, want hierdie tyd van die jaar is jy of op jou voete, of op jou rug. Meeste mense aan die kant is Brits, maar in London is dit n ander piekniek. Die kinders hardloop rond asof hulle opsoek is na pakslae, natuurlik so hoog op suiker dat die 'junkies' jaloers raak.
Hierdie sal nou my sesde Kersfees hier wees, wel in Europa, maar elke jaar word dit moeiliker. Gewoonlik gaan ek weg oor die kerstyd, gaan na die suide van Frankryk toe, of ek gaan ski saam met die vriende, maar vir die laaste 2 jaar bly ek hier, in die middel, tussen al die kak-en-drama. Die pil word elke keer meer bitter, meer gal as wat goed is vir my, maar ek bly. Hoekom? Om so vraag te beantwoord is nie maklik nie, waar begin jy, voel jy regtig so of is dit nodig? Om eerlik te wees dink ek dis meer soos n legkaart en hier staan ek met die 100de stukkies en ek kan self nie kop of gat uitmaak wat, wie, hoekom of waarom nie. Maar ek dink as ek saam met Sigmund Freud n koppie koffie gaan drink sal daar baie duidelik voorgese word dat ek moet begin by my kinderdae. 'OH SHIT'. Nie vandag nie, ek is moeg en regtig nie lus vir die kak nie. Kan ons maar begin my my skooldae?
Uit n baie klein dorpie, wat meer kerke het as skole, polisie stasies, trein stasies, hospitale en winkels saam, kan ons maar aan neem dat die belangrikste ding in so n gemeenskap geloof is. Ek was na die riool-plaas gestuur op die ouderdom van 11. Koshuis. Koshuis. Kotshuis. Kakhuis. Ek het baie dinge ontvang daar, raas en pakslae was bo-op die lys. Ou tante Smuts wat elke donderdag aand mielie-brood vir ons gee as hoofgereg, en as dit nie genoeg was nie het sy vir ons droe bruin brood gegee en vloue-bitter tee. Ahh, those were the days. Twee jaar op laerskool en 5 jaar op die hoerskool. Die dagblad het geloop soos n trein, 05H30 die klok lui, jy staan op maak jou bed op, trek aan en was jou gesig, tande en die hol. 05H45 tieng-tieng die foken klok weer, dan begin jy skoon maak, vee uit, stof af, spoeg en plak. 06H00 maak die klok weer n geraas, want nou is dit 'stilte tyd', dis nou wanneer jy op jou splinter stoel gaan sit en bybel lees. Alles is 50/50 in die dorp, alles. 15 min vir aantrek, dan 15 min vir Jesus. 06H15 se jy amen en jy sit, en sit, en wag vir die ontbyt klok. Die seuns is honger, almal staan so gefokus en kyk na die deur, enige oomblik nou, jy skiet weer n gebedjie af dat die tanies nie die eiers opgefok het nie, daar daar genoeg kos vir jou en die eerste span se regter flank aan tafel sal wees. Ding-foken-dong gaan die klok, die geskarel van stoele, die gegly van die 'grasshoppers' wat so hier en daar aan die teels raak, elke man vir homself. Net soos Pavlov se honde, water die bekke so dat as jy aantree vir ete jou hemp nat is. Jy moet stil staan, want as jy praat gaan jy sonder ontbyt, of jy hardloop totdat jy kots na skool. 07H45 gaan die eerste skool klok, dis die duiwel wat jou waarsku dat daar 15 min oor is voordat jou gat weer diep in die kak is.08H00 tree jy aan op die platform, die hoofseun begin jou dag met, 'sluit die oe', en nou bid jy weer. Na die amen sing jy n paar liedjies, nie die rugby liedjies nie, nie die gees-bou liedjies nie, mmh meskien gees-bou, as jy bou aan die heilige gees. Na al die loof en prys staan die onderwysers nader, die laaste een van hulle lyk verwaarloos, soos die kat by die trein stasie met een oog en n halwe stert. Een van hulle loop voorentoe met die swart boek onder die arm, die rooi-satyn bladsye wat so gloei soos n kool in n dronk man se braaier. En hier word vir jou n daagliske les geleer, lang hare 'equals' sonde, mesies kyk 'equals' sonde, foken alles is sonde. Na die die kort preek wil jouself straf, maar ons moet weer bid. AMEN, se almal saam, want die bliksems op die dorp het mos nie stilte tyd by die huis in die vroee oggend nie. Al wat hulle jou wil leer is een simple les; geen jou siel vir Jesus, want jou gat behoort aan ons.
In die klaskamer skryf jy mekaar se wiskunde huiswerk af, jy voel nie sleg nie, want jy het klaar vir jou sondes gebid. Die 'onnie' loop in die klas in, en raai wat, jy gaan weer bid. AMEN, se almal saam. Die amen is nog nie eers koud nie, dan kan jy die penne hoor skryf. Jy gaan van klaskamer na klaskamer net om meer en meer in die kak te kom. 'Vir wat doen jy nie jou huiswerk nie, praat met my jong mannetjie', tug die diep stem van vooraf. 'Want Mnr, Mnr gaan my in elk geval slaan Mnr'. 10 woorde en drie van hulle is Mnr. Jy moet die bliksem 'respek' wys, want dis mos wat n Christelike kind van Jesus doen, of hoe? Na die moer-sessie, voel hy better. Sy vrou wil nie moet hom slaap nie, maar jy is die gelukkige een op wie hy sy draadtrek arm kan oefen. 14H00 kom daar n stem op die 'interkom'. 'Ons sluit die dag af met n gebed'. 'Dankie liewe Jesus vir die wonderlike dag, dat jy oor my gekyk het, dat jy my veilig gehou het. Dankie, in Vader's naam. AMEN'. Die laaste klok lui weer. Die koshuis-brake moet hulle gatte roer anders eet niemand nie. Na n lang dag van kak-eet en pakslae kry is jy honger. Jy weet daar is nie genoeg nie, jy weet jy gaan voel soos Oliver Twist, nog net n bietjie, maar dit gaan jou mooi help, net mooi fokol. Jy loop in en bid, jy sit en eet, jy bid, jy gaan en trek uit. Vrye tyd, vir 45 min, dan huiswerk. 17H30 tree jy weer aan, jy loop in en bid, jy eet, jy bid, jy gaan 'speel' buite. Vrye tyd tot 18H30, dan studie tyd. Koffie tyd 22H00, na die of moer warm, of moer koue koffie is jy terug in jou kamer op jou stoel en dan weer 'stilte tyd'.
En in die tyd van skool, die breukers se egos streel, die onderwysers se kak eet, jou huiswerk doen, leer vir jou wiskunde toets, skoon maak, bid en bid en bid, moet jou op n skatejag gaan na toilet papier as jy n nommer twee wil doen. Die generasies voor my het dit gedoop 'wit goud', presies soos dit moes wees. Soos die skelmste en bliksemste wetters in Hillbrow dwelms deel het ons die skuim wat presies die selfde doen in n seuns koshuis. Met jou lee beloftes, jou laaste sakgeld of jou beste skoene smeek jy om hulp. Jy oorweeg dit self om te bid vir dit, maar jou hulp kom nie, na al daai mooi vra ook.
Uit die selfde dorp ontmoet ek n ou siel soos myself. Sy is van die ander kant van die dorp, die aardrykskunde Mnr weet nie eers waar dit is nie. Haar man boer en sy gee klas, net vir die wat iets wil leer. Beide van hulle is uitgesonder in die dorp, hulle weet dat hulle nie welkom is nie. Daar is nie n donker geheim agter die moles nie, die polisie kom klop nie as daar iets of iemand weg is nie. Al wat tussen hulle staan en die welkom wat hulle verdien is hulle geloof, hulle kom nie in die NG kerk nie, ook nie die AGS nie, maar op Sondae gaan hulle na n ander dorp toe, want daar is hulle methodists kerk. Sy gee vir my engels, sy bring vir my van haar boeke uit haar eie huis want ek kan nie eers die boek bestel op dorp nie. Bram Stoker's Dracula. n Classic. Vir 7 jaar moes ek skaam wees, wegkruip en skelm lees. Vir 7 jaar moes ek stil bly oor die feit dat ek dink dat die heelal te groot is dat dit net ons kan wees. En vir 7 jaar kon ek, mag ek nie vir n enkele siel gese het dat ek nie in n god glo nie.
7 jaar op universiteit deurgebring en die dag toe ek my tweed graad vang is ek op die eerste vlug oor na die 'modder-eiland'. Meer boek winkels as kerke, meer museums as kerke. Nou kyk ek op na hierdie grys, koue, nat winters dag en ek wil amper huil dat ek hier is, maar die trane is van blydskap. So lief as wat ek is vir my mense, my taal en my kultuur, net so skaam maak hulle my.
No comments:
Post a Comment